“I” in “Individual”

Ek het onlangs, in ’n baie kort tyd, gegaan van alleen wees na die deel van die lewe saam met iemand. Dit voel goed. Ons deel die dra van geluk en hartseer. Ons dink saam oor planne, oor probleme en hoe om dit op te los. Ons gesels oor ons dae, die mense wat ’n rol speel in ons lewens, en die verskillende dinamieke wat dit bring. Ons droom saam.
En weer: dit voel goed. Ligter. Asof mens mekaar help om beter te wees, meer jouself. Vir jouself, maar ook vir ander.
Onlangs kyk ons sport, en die wenner hardloop ’n veldtog op nasionale televisie: “I want to thank myself.” Dit sit dadelik vreemd. Dit krap. Dit voel nie reg nie. Net nadat sy haar hele span bedank het, val sy terug op die idee dat dit eintlik net sy was, haar deursettingsvermoë, haar ure se oefening, haar opofferings. Amper asof die mense rondom haar nie ook hul tyd, energie en geloof in haar belê het nie.
Ek ry werk toe, en meeste advertensieborde skree dieselfde boodskap: “Ek, ek, ek.” Doen dit vir jouself. Jy verdien dit. Jy is spesiaal. Jy is uniek.
En tog voel dit asof iets daarin ontbreek.
Dit is asof ons vergeet het dat ons mekaar nodig het. Dat gemeenskap belangrik is. Dat wie jy is, nie bloot die resultaat van jou eie harde werk is nie, maar ook die invloed van almal wat oor jare in jou lewe ingeploeg het. Die idee van die “one-man show” is aantreklik, maar dit bestaan nie regtig nie.
Ons vergeet hoe diep ons gevorm word deur ander mense, deur wat hulle sê, skryf, doen, leer en wys. As dit regtig net jy en jou eie gedagtes was, sou jy selde, eintlik nooit, baie ver gekom het nie.
Die natuur van die lewe is interaksie. Jy sien dit in fisika, sielkunde, geloof, kommunikasie, oral. Gee en neem. Neem en gee. In elke geval is daar minstens twee partye betrokke. Daar is altyd ’n muur waarteen die bal gegooi moet word voordat dit kan terugkom.
Miskien is dit waar die “dual” in “individual” lê.
Jy is omdat ander was en steeds is.
Niemand word goed of suksesvol in isolasie nie. As daardie sportvrou nie teenstanders gehad het om haar uit te daag nie, afrigters om haar te lei nie, ondersteuners om haar aan te moedig nie, sou daar baie minder gewees het om voor dankbaar te wees.
Ons is deesdae so besig om vir onsself dankie te sê dat ons vergeet van die steunpilare rondom ons. Die opofferings, tyd en omgee van mense rondom ons.

Daar gebeur iets merkwaardigs wanneer mens begin fokus op die “dual” eerder as die “I”. Dit skep ruimte om ’n beter “I” te word. Nie omdat jy minder van jouself dink nie, maar omdat jy jouself beter verstaan. Omdat jy begin raaksien hoeveel van wie jy is, gevorm is deur die mense rondom jou.
Dit gebeur wanneer jy meer mure het waarteen jy die bal kan gooi. Mense wat jou uitdaag. Mense wat vrae vra. Mense wat jou help groei.
Ons trap almal in die strik. Die wêreld help ons ook nie juis nie. Die bemarking rondom ons is meesterlik daarin om die individu te vier en die gemeenskap te vergeet.

Ons het onlangs die fliek American Pickle gekyk. Doen jouself die guns. Dit spot op ’n slim manier met baie van wat ons vandag belangrik ag. Ons probeer produkte, besighede en selfs identiteite bou rondom dit wat mense goed oor hulself laat voel. Die karakter uit die 1800’s, soms rof en ongemaklik eerlik, herinner ons egter aan iets eenvoudiger: dat dit belangriker is om iets te bou wat mense bymekaar bring. Om te fokus op wat werklik saak maak. Op menswees. Op gemeenskap. Op betekenis.
Die ironie van vandag is dat ons soms so slim geword het dat ons amper dom raak.
Ons vergeet van eerste beginsels. Ons vergeet hoe dinge werk. Ons vergeet waar om te begin. Ons vergeet wat regtig belangrik is.
Ek kan nog lank hieroor aangaan en baie voorbeelde noem. Maar miskien begin dit by iets eenvoudig.
Bewustheid.
Bewustheid van almal wat jou gehelp het om te kom waar jy vandag is. Bewustheid van die mense wat jou beter maak. Bewustheid dat niemand alleen bou nie.
As hierdie vir jou saak maak, kom ons begin fokus.
Kom ons fokus op dinge wat meer saak maak. Kom ons bou saam aan ’n wêreld wat minder “ek” is en meer “ons”. Kom ons bevraagteken die stories wat ons vertel oor sukses, identiteit en selfgenoegsaamheid.
En dalk, net dalk, begin ons weer die waarde sien van die “dual” in die “individual”.

Julani Nel – June 2026

2 responses to ““I” in “Individual””

  1. Baie waar! En belangrik!

    Liked by 1 person

  2. ‘n Eerlike besef.

    Liked by 1 person

Leave a comment