Tentatief Lief

Dit was seker die derde keer wat ek haar sien, toe vra ek haar “sal jy my nooi wees?” en om eerlik te wees, toe het ek reeds terug gehou.

Sy sê “soos, official?” met so ‘n hokaai stemmetjie. Dis reg, teveel, te vinnig. Pla my nie, ek sal later weer vra. “Wat jaag jou?” vra sy. Ek weet nie, entoesiasme, I can’t believe my luck I suppose.

Een lentedag lê ons skemertyd op die bed waar ons desperaat rustyd probeer terug klou het van dae en weke wat te vol is en te min slaap lewer. Sy sê sy moet nog haar ouers inlig oor die verwikkeling, sy gaan dit sommer nou doen. Niggie wil nie meer geheim hou nie en wie weet wanneer die storie op die vlaktes begin rond hol. Ek sê ek wou ‘n sappige boodskap op een van die Polar Steps stories gelos het, maar toe dink ek, spaar die kind, laat sy self daardie oorgang maak.

Sy sê nee sy hou daarvan, kom ons doen dit so. Natuurlik sku vir die konfrontasie met ‘n realiteit wat sy nie juis voor gekalibreer het voor sy loop soek het vir hom nie. Sy bel die ouers want hul wil praat, en ek moet stil bly. Dis reg, nie die eerste keer wat ek myself ‘n geheim moet hou nie. Hulle klets lekker oor die fiets toer tussen die blomme en die mededinger wat byna gesneuwel het toe hy probeer pronk op sy trapfiets.

Die niggie naweek kom op en haar pa sê ja, ons gaan daar by die Asrivier verby. “Ouma kom saam, ons gaan haar daar in die rivier gooi” en ek wil kraai van die lag. Ek ken nie vir ouma nie, maar hul reken dis seker nou tyd vir die vroumens om aan te beweeg, genoeg is genoeg.

‘n Tydjie gaan verby en die ouers is ingelig. Ek word genooi om saam te gaan na die “Niggie Naweek” wat nie meer ‘n niggie naweek is nie. Die manne en kinders gaan saam, en ek moet nou die familie ontmoet. Lekker, mens soek ‘n uitdaging van soorte, diep kant of nie, swem Frikkie swem!

Donderdag kom aan en ons piekniek met vonkelwyn op die gras. Ek het geswem want daar is nie water om te stort nie. Ons het weer vonkelwyn want ek het goeie nuus ontvang. Die wyn is nog nie oop nie want ons klets te lekker. Ek vra haar weer, “sal jy my nooi wees? Soos, official” en sy sê met n smeltende gemoed “tentatief ja.” Ek sê met ‘n giggel “watse kak is dit!” Sy sê “vra my na die naweek”. Ek sien. Man moet kwalifiseer. Dit is reg, tentatiewe lief, ek wil dit nie maklik hê nie. Maklik is ‘n rooi vlag, maklik is vir piskrieke.

Die naweek verloop gans te glad. Die mense is te vriendelik en ordentlik. Ek het so bietjie van ‘n lokval hier en daar verwag, maar die bokke het mooi gespeel en daar is niks om oor te kla in die lewe nie. Haar moeder bekyk my net met haar lieflike skrefies oë, dra alewig ons skottelgoed weg soos ‘n dienskneg, en haar pa deel graag sy spesiale wyn. Ek soek vir krake in hierdie prentjie maar hy lyk heel deeglik aanmekaar gesit.

Ons gaan museum toe en ons klim in die familie wa. Daar tussen die voorste sitplekke is ‘n piekniekmandjie met ‘n pakkie tjips en ‘n ‘glue gun’, ouma se as en ‘n pakkie bont balonne. “Ons gaan vir ouma in die rivier gooi” klop nou. Die mense se humor is nie afwesig nie, maar ouma is darem in ‘n geskikte toestand om gegooi te word in ‘n rivier.

Volgende oggend sit Ouma op die kombuiskas langs die koppies waar moeder koffie maak, en langs die boks met ongemerkte wyne in. Op Ouma se boksie lê daar ‘n skroewedraaier, ek neem aan die ding is met skroef toegemaak, maar die prentjie is nogsteeds vir my komieklik, dierbaar. Ouma is daai dag in die rivier gegooi. Dit was vir my ‘n eer om daar te wees. Eerste keer wat ek as in persoon sien gestrooi word. Eerste keer wat ek iemand in ‘n rivier gesien gooi word.

Nou nie om onnodig vir moeilikheid te soek nie, dit was te maklik. Die arme meisie was vreeslik besorgd oor my tussen die manne en die tannies, en ek wonder heeltyd wanneer kom die skrum. Maar dit het nooit gekom nie, nie eers ‘n ligte losgemaal nie. Die tyd sal seker nog kom, tenminste hoop ek so.

Terug by die huis vra ek vir tentatiewe lief weer “sal jy my nooi wees?”

Sy sê “ek sal, ja… so hard”

Leave a comment