Wat maak my ongelukkig?
Jy’t nie gevra nie maar ek antwoord graag!
Die konstante gedreun van ‘n yskas in my leefspasie.
Die klam, ryp reuk van ‘n oorgewig man wat heeldag gewerk het, wat hier langs my in die beknopte kleedkamer uit trek met sy loodgieters kloofie en enorme voete wat dien as huisvesting vir luid organismes wat ek gretiglik vermy en bonop uitwis met elke geleentheid wat ek kry. Ek wil nie eers vir hom kyk nie want die arme ding se gesig sê vir my hartseer dinge, maar ‘n mens kyk in verstomme soeke na die bron van so almagtige stink.
Om te staan in ‘n ry en wag. Of dit nou is om te pis of om by jou eie donnerse huis uit te kom, ry staan maak my ongelukkig. As ek by ‘n konsert moet ry staan om ‘n bier te koop wat ek nie mag saam bring nie, en dan die goed uit n plastiese koppie moet drink soos ‘n kleuter wat Oros gekry het by n verjaardag partytjie van iemand wie hy skaars ken, dan gaan ek eerder nie konsert toe nie. Ek dink ons het vêr genoeg gekom om nie so geketting hoef te wees aan ‘n uitgeteugte speen nie.
Ek raak ongelukkig wanneer ek ‘n ligskakelaar aan druk en daar is ‘n halfhartige 10 sekonde disco sonder musiek wat my rustige gemoed binne in sy geroesde moer in skok. Belydenis is nie waarna ek neig wanneer ek loop soek na ‘n peuselhappie nie. Dit maak my nog meer ongelukkig om te dink hoe dit gebeur het dat ons hierdie aaklige blou-wit, sielsberowende apparate in elke vertrek van elke gebou, en op elke hoek van elke huis gaan sit het tot op die punt waar daar nie meer so iets is soos ‘n donker nag nie, al het Eskom weer vergeet dit het ‘n doel op Aarde. Ek kan nie in die aand op my stoep sit en in die stille niks in kyk nie want daar is ‘n buitelig wat een of ander bang gat aan gelos het om sy hele erf vir die boewe te belig, en die zaab my in die oog soos die ou wat sy brights aan vergeet het iewers tussen Kroonstad en Bloemfontein en nou kyk hy hoeveel mense vir hom sal flits want hy is moeg vir die radio en moeg vir die sweets in die centre console en hy kannie meer drink nie want hy moet reeds piepie maar hy wil nie stop nie anders vat dit nog langer om by die huis te kom. Boewe het nie meer flitsligte nodig nie want ons maak seker hulle kan alles mooi sien. Hoe gaaf is dit nie.
Ek eet sommer ‘n koue aartappel sonder sout en droom van stilte.
Droom van ‘n wêreld waar oorvrete mense nie vergaan in die jammerte van hul onbekwame bestaan en die vermentasie van hul eie sweet nie.
Droom van ‘n dag waar ek rond kan rits en by die huis kom sonder om my meditasie vernuf te beoefen terwyl ek nuwe vlakke van clutch control bemeester.
Ek droom van ‘n wêreld waar die donker nag nogsteeds die godgegewe donker nag is en die sterre in die hemel ons nog steeds kan herinner dat daar baie, baie, baie meer, groter dinge is daar buite as dit wat ons fools hier onder ons mee besig hou.


Leave a comment